Tuis » Taal » Prosa & poësie » " Blom van die Baaierd " deur D.J. OPPERMAN
" Blom van die Baaierd " deur D.J. OPPERMAN [boodskap #78502] |
Do, 29 Mei 2003 17:09 |
|
Oorspronklik gepos deur: @rogers.com
D.J. Opperman
Blom van die baaierd
I. Vlermuis
Bloedhonde vat met fyn getjank die spore
tussen wrakhoute en geraamtes aan die Dodekus,
verby dwergstruike die kalkbulte oor;
en in dié streek, van elke been en wiel bewus,
gaan geen teken of beweging ooit verlore.
'n Binnelig uit God se eerste daeraad
lê nog beslote in derduisend diamante,
afgekamp tussen versperrings doringdraad
waar rooi geverf staan op groot planke:
"Streng verbode! Niemand word hier toegelaat."
'n Bruin sandadder, dun en kierieblink,
gly deur 'n trassiebos na 'n klipskeur -
die wêreld het tot dood en wit soutpan versink,
en dorp en doringboom staan in die beur
van bliksem en die Duiwelswind vermink.
Oor duin na duin in gange krag- en doringdraad
kraak deur landskulpe elke duisend voet
grys stewels van woestynkonstabels wat paraat
onder die Suiderkruis of kalkerige gloed
dié oerbewoonde kamp met karabyn bewaak.
Ovambo's pas daarbuite karakoele op en skree
van bult tot bult 'n boodskap oor
na Brakfontein, 'n dorp soos elke dorp geleë
met sy lokasie, blikkiesbuurt en poskantoor,
rooi petrolpompe en die S.A.P.
'n Kampwag slenter deur die onderdorp en draai
'n rukkie in waar "Die Blink Skoen"
roeserig in die duinwind piep en swaai,
en fluister vir die boggelman ou Skewe Koen
wat rympies maak terwyl hy bandeliere naai.
Vir sy versameling robyne en kristal
bring 'n klonkie en drie seuns ná skool
'n blikkie steentjies, laat hul in sy hande val
en wag, terwyl hy sny aan voorslagvel en sool,
op halfmaanspykers en die strokies leerafval.
Daarna kom Broeder Ben sy maandelikse weg aanwys
volgens die leer van een of ander sekte;
hy begin, ouder gebruik, by die verlore paradys
en eindig ná gebed by die kollekte
wat God van elke Brakfonteiner eis.
Asof fyn klokkies om haar lui, volg Isabel:
sy pla, sy lag met hom, sy spot.
'Sal hy die gespe aan haar skoen verstel?'
Dan fladder daar gedagtes uit 'n grot
om die smal enkel teen die bankie opgetel.
'As gebreklike het ek gelees of eens hoor sê
dat in die wêreld daar tog vrouens is
wat selfs 'n skewe liggaam lief kan hê,
maar ek het my in haar en ander steeds misgis,
en wie kan leef as hy nie langs 'n maat kan lê?
'My Meester, as U Meester is en kan genees,
hoe kan ek sin gee aan die armoede en pyn,
as U nie oornag die knoppe van my vlees
wil knie ... kán knie en stryk dat hul verdwyn
en ek gewoon soos elke mens kan wees?
'Hoe lank wil U my hou met krom kraakbeen
in skadu's van U skepping afgesonder?
Die grond buig en boggel om my heen
en die nag en sterre lê hol onder -
ek val en haak my aan die wêreld ... steeds alleen.
'Ek moet met rympies in U duister maal,
'n rukkerige vlug my lewe lank,
en tussen sterre en die stekels staal
telkens met klank en weerklank
my wisselende plek in die heelal bepaal.
'Waarom, my Meester, dan so koud en hoog?
Hoe is U as ek deur 'n ander liggaam kyk?
Ken 'n uintjie U? Hoe sou die rant se boog,
die maan wat opkom, en 'n miershoop lyk
deur oop glasholtes van 'n perd se oog?
'Ek móét my lyf van hierdie lyf vervreem -
die drade tussen wye wêrelde loop dun!
Ek moet een nag die flonkerende steen
van mag en kennis wat U my misgun,
uit die verbode kamp van doringdrade neem.'
II. Lokvink
Die blaker op sy bors, en op die velkombers
haal Broeder Ben die stukkie geel koerant
weer uit sy Bybel, lees die halfvergete vers
wat Koen hom eens gegee het: "Liid fan di Diamant",
en blaas dan dood die tranerige kers.
" 'An hande, so mooi en so wit as di sné,
op flegsels fan dames, met hare so blond,
kan ek ongekende bekoorlikhyd gé,
skyn met di glans fan sterre teen di rond,
en ek steur my ni an di wel of di wé.
" 'Fer goed of fer kwaad, met myn glimlag so koud,
fer Londen se krone, fer Fransinne se hoof
begroet ek di finder, feul meer nog as goud;
ek blink en word fan myn glans ni beroof,
mar fingers ferkrimp en lokke fergroud.
" 'Wat is ek? En skyn ek ook nog fandag
met myn eerste lig syn glans nog ni kwyt,
so mooi as foor Adam syn tyd in myn prag?
Ek tart uit di ewe, ek daag uit di tyd
'n blom fan di bajert, ferberg in di nag.
" 'Tog blink ek en straal 'n rukki net foort
ná di konings ferkrimp en di wereld ferkwyn
en geef jou, o siil! di fermanende woord,
omdat jy alleen an di ewighyd hoort:
'n kasteel fan kristal waar Gods lig uit skyn."
'Ja, Koen ... Herr Beume! ... uit die Rynse hospitaal
nog skaars 'n sewe jaar terug
met elke bult en kinkel uit jou lyf gehaal,
koop hier hotel, bou daar 'n burg
en laat my kuddes karakoele dwaal.
'Die duiwel het sy manne wat kitare tokkel,
in gladde motors gly of pronk,
het sy lokasies met 'n Djombe, die swart pokkel,
en hier en daar 'n wag by kamp en tronk
wat met sy bende oor die wêreld diamante smokkel.
'Die Brakfonteiners weet dat elke klant
wat lastig is, uiteindelik moet verwag
hy sal een donker aand versmoor lê onder duine sand
of soebat uit die waters van 'n ou mynskag
of êrens in 'n petrolkonka brand.
'Die speurders gaan te menslik met ons om
en wil nie sommer gou toeslaan;
hulle weet wie handel met die "blom"
en laat in die begin glo net begaan
totdat die hoofkwartier se opdrag kom.
'Hoe kom ek in die kamertjie van jou hotel
met vissers en die wagte bymekaar
dat ek en hulle Münchner bier bestel
en, later as iemand waghou met kitaar,
ék die kontant en jy, Koen, die karate tel?
'Die wêreld word beflonker deur jou diamante;
die ruitjies hier van Brakfontein,
die groot glaskamers van Witwatersrand,
ou groen kastele langs die Ryn
en slypers in Antwerpen by hul banke.
'Ek kyk met jou weer in jou klipkasteel
deur teleskoop na die heelal:
sien parakiete en kanaries, groen en geel,
in God se groot kou val
en oopvlerk tussen skoppelmaaie van Sy hemel speel.
'Jy lag! Jy wat die wêreld ken en koop
en telkens sien deur ander drome!
Jy wat, vermoeid van Isabellas, drink en dagga rook
en lyf ná lyf reeds so volkome
weet hoe straal die Syn in al sy vlakke oop!
'Jou ou en nuwe oë sien al meer astrant
hoe vals en flonkerend alles is:
die mens het glo in God en Anderkant,
in reg en werklikheid hom eeue lank misgis -
skimbeelde wisselend na lyf en die verstand!
'Al word ek in die stryd selfs oopgevlek
dat al wat heilig is in my, verdwyn,
ek moet die Bose in dié buurt belet
en my deur selfvernedering en pyn
opoffer en die Brakfonteiners red.'
*
"Wil jy die vriend nog van jou jeug behou
al kan jy, Koen, nou ryk en regop loop?
Help my dan as dankoffer hier 'n kerkie bou;
ek vra slegs dat jy klippies van my koop -
juis jy, want jou alleen kan ek vertrou."
Die nag toe hulle op die bult mekaar ontmoet
en die geheime speurders nader tree,
klap koeëls deur Broeder Ben se bors en voet ...
"Lama, lama sabagtani" ...
en uit rewolwerwonde druppel bloed.
III. Vuurvlieg
'Stormlamp en flitse soek deur hierdie duisternis
in elke skeur en souterige poel;
vlermuise fladder uit spookdorpe in die mis,
die kokerbome ruk wit op ... ek voel
dat daar niks vuilers as 'n lokvink is.
'Niks skud die brakke of konstabels van my spoor
wat lei deur duine van die Dodebult,
deur dorpies na lokasies en die wêreld oor ...
Die Rand en Brussel sal in medeskuld
môreoggend weet vannag het hulle saam gemoor.
'Kon ek maar weer die boggelruggie wees
wat vrolik, as die duinwind waai,
in die looidamp van my kamer op die ysterlees
'n skoen bespyker of met pikdraad naai
terwyl ek rympies maak vir God of bruilofsfees.
'Kon Djombe my as seun weer in die waentjie stoot
op paadjies na die stukke porselein en lepels,
waar meide teen die walle krap na skil en knoop
en die teef draf met geswaai van leë tepels -
ag Heer, hoe bloei die kappertjies op 'n ashoop!
'A! die slaghuis met sy vleis en stringe wors,
die pasgeslagte lam wat nog 'n ruk naroer,
die blokman se kapbreek aan 'n bees se bors -
hoe koel my voete deur die saagsel op die vloer
en die wit yspoeier wat om pype kors.
'Het U my eens die kreupele gemaak
en my klonkie bruin soos gladde seebone,
dat ons U skepping in die skadu's sou bewaak
en alles wat vergete word, en die gewone,
ja, selfs die lelike deur ons U raak?
'Tog, as U lomper maaksels vlees en vel
duskant die Dodekus vereensaam
ons tot blikkiesdorp, lokasie en tronksel,
en sluit in wanhoop van die liggaam
'n verbond met magte van die hel.
'Waar is U towersteen, U fonkelende graal
dat ek my skik na grense
en tevrede met die plek wat U vir my bepaal
- selfs as gedrog langs medemense,
sien dat U regverdig bo die donker skepping straal?
'Die een word dít gegun en dát word my belet,
tog is 'n elk en ieder deur 'n leed,
'n wellus of 'n donker vel besmet,
en uiteindelik moet ek tussen ander weet
dat op die aarde elke mens sy boggel het.
'Sal ek vannag nog met my vliegtuig vlug
na bondgenote wyd versprei:
na Portugese in Angola, Jode in Johannesburg,
of ronkend oor die Skeurvallei
na Brussel of Brahmaanse tempels teen 'n kerrielug?
'Maar boos bly boos in Brakfontein of Neo-Baäl,
en goed is goed by Golgota of Brussel;
en deur die eeue is dit reeds bepaal:
die plek en spelers sal voortdurend wissel
maar die spel word telkens in die tyd herhaal.
'Ek het my saak volkome dan as mens verloor
en kan 'n jaar of wat voor die konstabels spat,
maar eindelik moet ek van die regter hoor:
"Jy het weerstrewig die verbode steen gevat
en op 'n nag my dienaar teen die bult vermoor."
'Ek móét weer terug na Broeder Ben se lyk
dat ek dit skend en met 'n vuil besmet;
ek móét een maal na sy gesig weer kyk
en haat en liefde in gebed
laat wissel tot my hande deur sy hare stryk.'
*
En hulle vind hom waar hy takkies breek
en bid om sy en Brakfontein se sonde,
om dié van Brussel, Jerusalem en elke streek ...
waar hy rooi kappertjies in al die wonde,
die halfoop oë en neusgate steek.
|
|
|
|
|
Gaan na forum:
[ XML-voer ] [ ]
Tyd nou: Do Nov 21 15:10:56 MGT 2024
|